Suurdeegkaneelrolletjies
Deel
Buiten vir brood, is hierdie een van my gunsteling suurdeegresepte! Heerlik as 'n Sondagoggend-na-kerk-bederfie of sommer net enige tyd van die dag. Dit vat 'n rukkie vir die deeg om te rys, so beplan mooi vooruit.
Bestanddele:
Soetdeeg:
- 2 eetlepels/ 30g gesmelte botter of hoëvet margarien
- 2/3 koppie/ 160g melk of wei
- 100g aktiewe suurdeeg
- 1 eier
- 2 eetlepels suiker
- 2.5 koppies koekmeel
- 1 teelepel sout
- kaneelsuiker en gesmelte botter/margarien vir die vulsel
Versiersel (meet met jou hart):
- 2 eetlepels botter/margarien
- +/- 2 koppies maaskaas
- +/- 2 koppies versiersuiker
- genoeg vanieljegeursel
Metode:
- Smelt jou botter/ margarien, voeg die melk/wei by en laat afkoel.
- Meng die aktiewe suurdeeg, suiker en eier saam in 'n bak tot goed gekombineer.
- Voeg die afgekoelde bottermengsel by die suurdeegmengsel en gee dit 'n goeie roer.
- Meng die koekmeel en sout goed saam by die mengsel en knie die deeg tot 'n stywe balletjie vorm.
- Plaas die deeg in 'n skoon bak, bedek met 'n nat vadoek of stortkappie en los om te rys. Die deeg moet verdubbel in volume.
- Spuit jou werksoppervlak met kleefwerende sproei en strooi klein bietjie meel. Keer jou deeg daarop uit.
- Druk jou plat in 'n reghoekige vorm en los vir so 'n paar minute om te rus.
- Rol die deeg dun uit in 'n reghoekige vorm.
- Smelt +/- 2 eetlepels botter/margarien en verf dit oor die deeg.
- Strooi kaneelsuiker in 'n lekker dik laag oor die deeg.
- Rol jou deeg lekker styf om en druk die deeg bietjie plat na elke rol.
- Verdeel jou rol in ewe groot dele en sny met 'n deegskraper of skerp mes.
- Verpak die rolletjies in 'n gesmeerde koekpan en laat verder rys vir so 'n uur.
- Bak die rolletjies in 'n 180°C voorverhitte oond vir 35-40 minute.
- Berei die versiersel voor (klits al die bestanddele saam tot sag en romerig - gooi nog bestanddele by tot jy die smaak en tekstuur van jou voorkeur gekry het).
- Smeer die versiersel oor die afgekoelde rolletjies en geniet!